Franschhoek SAPD (Suid-Afrikaanse Polisiediens) het ‘n nuwe Stasiebevelvoerder; Kaptein Morné du Toit is sedert Desember in die groot stoel by die polisiestasie op die hoek van Hugenote- en Bergstraat. Die vakature het ontstaan toe Franschhoek se vorige stasiebevelvoerder, Kaptein Davids, na meer as twee jaar in die pos bevorder is en na Robertson verplaas is. Amptelik is die plaaslike aanstelling tydelik, totdat die provinsie die permanente aanstelling doen.
Kaptein Du Toit is ‘n oud-leerling van Franschhoek Hoërskool en met ‘n agt-en-twintig jaar lange diensrekord in die polisiediens was hierdie die ideale volgende pos om voor aansoek te doen. Toe hy destyds na skool opgeroep is vir sy twee jaar diensplig, het hy op aanbeveling van ‘n familielid, aansoek gedoen om by die polisiediens aan te sluit. Dit was een van die beskikbare opsies en het uiteindelik na ‘n loopbaan gelei. Hy het in verskeie afdelings gedien; hy was onder andere instrukteur en was veertien jaar lank in die onluste eenheid. Hy erken hy hou daarvan om te werk waar dinge gebeur, om aktief in die voorste linies te wees.
Daar is verskeie uitdagings vir die nuwe bevelvoerder en hy sien absoluut kans daarvoor. Vakante poste is een daarvan, maar dis die provinsie se verantwoordelikheid om aanstellings te doen. Dan is daar die dwelm probleem wat verband hou met werkloosheid, armoede en diefstal. Daar is ook die uitbuiting van toeriste, veral by OTMs.
Kaptein Du Toit glo dat misdaad meer effektief bekamp kan word as die gemeenskap saam met die polisie werk en alles aanmeld. Dit help nie mense probeer hulle reputasie beskerm deur nie gevalle waar hulle slagoffers was aan te meld nie. Hoe meer inligting die polisie het, hoe beter die kans dat hulle misdaadpatrone en modus operandi kan naspeur. Om dit te kan doen moet alles aangemeld word. Die ander probleem is dat mense iets aanmeld maar nie bereid is om ‘n verklaring af te lê nie en dit laat die polisie sonder bewyse. Kaptein Du Toit sê “Die gemeenskap is die polisie se oë” en vra ook dat mense nie sosiale media moet gebruik om misdaad te probeer bekamp nie, maar liewer met hom moet kom praat. ‘n Goeie werkende verhouding tussen die gemeenskap en die polisie is van uiterste belang, dit maak die uitruil van inligting en voorkoming van misdaad meer effektief. Buurtwagte en kameras is baie waardevol.
Die nuwe bevelvoerder lewer nie kommentaar op die moontlike negatiewe beeld wat sommige mense van die SAPD het nie. Hy weet daar is uitstekende lede in die polisiemag en hy is vasberade om ‘n goeie beeld te bou. Hy spits hom veral daarop toe om kennis oor te dra en jonger polisie beamptes touwys te maak; met lang diensjare het hy en sy kollegas baie kennis en inligting om te deel.
By die huis is Kaptein Du Toit se vrou en twee dogters – een op universiteit en die ander in Graad R.