Home Lifestyle ATKV bring hulde aan Franschhoek se uitvoerproduk

ATKV bring hulde aan Franschhoek se uitvoerproduk

64
SHARE
Me. Sonél Brits, besturende direkteur, oorhandig ’n oorkonde namens die ATKV aan Reuben Riffel.

Om van kombuishulp tot wêreldbekende chef, televisiepersoonlikheid en skrywer van kookboeke te vorder, gebeur nie sonder talent, maar veral ook harde werk en deursettingsvermoë nie. Die Eikestad-tak van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, onder leiding van die voorsitter, mnr. Roelie Janse van Rensburg en me. Elize Fortuin, Wes-Kaapse streeksbestuurder, het hierdie prestasies van Franschhoek se “celeb” chef uit eie bodem, Reuben Riffel, onlangs met ’n spesiale oorkonde vereer.

Die besturende direkteur van die ATKV, me. Sonél Brits, het die geraamde oorkonde onlangs in Reuben se restaurant in Franschhoek aan hom oorhandig waar familie, vriende en lede van die vereniging op ’n driegang-ete getrakteer is. Mario Arnold het luister aan die geleentheid verleen met sy saksofoon. Dr Ernest Messina, ’n familievriend, het in sy toespraak na Reuben as ’n koskunstenaar verwys en gesê sy kop is in die wolke, maar sy voete word stewig op die grond geanker deur sy gesin. Reuben se vrou, Maryke, is ook ’n chef en het hom tydens haar praktiese opleiding ontmoet.

Dr Messina het Reuben beskryf as iemand wat altyd bewus is dat hy steeds meer van sy vakgebied kan leer en so nederig is dat hy nie met sy luukse motor in die dorp wil ry nie, omdat hy bang is dit lyk of hy spog. Hy is trots op sy herkoms en probeer om die kostradisies waarmee hy groot geword het, lewendig te hou en terselfdertyd met nuwe idees te eksperimenteer. Sy ouma se brood, waaraan die gaste by sy restaurant daagliks smul, beklee nog ’n ereplek in sy resep-repertoire.

In sy bedankingstoespraak het Reuben gesê baie komplimente maak hom ongemaklik, want dit kan inmeng met ’n realistiese perspektief op ’n mens se eie lewe. Die afsterwe van sy ouers en grootouers het hom tot nadenke gestem oor hoe die wêreld verander, hoe anders hy groot geword het as sy eie twee kinders en familiebande wat standhou.

In sy strewe na sosiale geregtigheid, ploeg hy graag terug in die gemeenskap en ondersteun Franschhoek se gasvryheidsakademie (FHALC). Hy hoop hier kan meer soortgelyke projekte kom omdat dit jongmense van die gemeenskap bemagtig om orals ter wêreld hul plek te kan volstaan.

Teks & Foto: Elkarien Fourie