Home Lifestyle Everest oorwin op Franschhoekpas

Everest oorwin op Franschhoekpas

2279
Franci van der Walt onderweg na sy mylpaal op die Franschhoekpas

Franci van der Walt, ‘n rekenmeester van Kaapstad, het op die naweek van 14 & 15 April 2018 ‘n lid geword van ‘n baie ekslusiewe klub. Volgens die amptelike ‘Everesting’ webblad het hy die 2284-ste mens geword wat ‘ge-Everest’ het. ‘Everesting’ is wanneer ‘n fietsryer dieselfde berg telkemale uitry totdat hy die hoogte van die berg Everest (8848m) geëwenaar het.

Die eerste persoon wat amptelik ge-Everest het – in 1994 – was George Mallory, kleinseun van die befaamde bergklimmer met dieselfde naam.

Franci het op Saterdagoggend, 14 April, teen die Franschhoekpas begin uitry met die doel om binne 24 uur te Everest. Teen 01h20 op Sondagoggend, 15 April, het hy sy doelwit bereik.

Gevra waarom hy hierdie uitdaging wou aanpak sê Franci: “Dit het op daardie tydstip na ‘n goeie idee geklink. Ek het al vantevore daarvan gehoor maar glad nie besef waarvoor ek myself ingelaat het nie.Dit is ‘n lang pad en klim. Baie lank.  Die gedagte aan ‘n inskrywing op die webblad het dit so bietjie meer fun gemaak.”

Volgens Franci het hy op die Franschhoekpas besluit omdat dit ‘n mooi en besonderse pas is – “- jy kan dit ry sonder om te voel jy wil afklim en jou fiets stoot. Die verkeer op die pas is ook nie te erg nie.” Alles het egter nie perfek uitgewerk nie. Die wind was besonder sterk op die 14-de. “Dit maak dat mens net nog dieper moet grawe. Maar ek is baie dankbaar vir die Here se beskerming en voorsiening op die dag.”

Oor voorbereiding sê Franci: “Kan mens regtig oefen vir so iets? Ek probeer maar deurentyd Wattbike ry (by die gim) – meesal oor middagetetyd. Ek probeer maar die mees optimale manier kry om te oefen en nie weg te wees van die huis, my vrou en ons kinders nie.”