Home News FAK vereer Sleigh in Franschhoek

FAK vereer Sleigh in Franschhoek

2562
Die uitvoerende hoof van die FAK, Dr Danie Langner, het die NP van Wyk Louw toekenning aan die skrywer en historikus Dr Dan Sleigh oorhandig.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het op Saterdag, 20 Mei, die NP van Wyk Louw toekenning aan dr. Dan Sleigh oorhandig. Díe toekenning is deur Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, aan Sleigh oorhandig as erkenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur. 

Sleigh het reeds etlike ander belangrike skrywerspryse vir sy historiese romans Eilande en 1795 gewen. “In sy meesterwerk, 1795, vertel dr. Sleigh die verhaal van William van Rheede van Oudsthoorn se liefde vir die Kaap en sy geskiedenis, sy verdediging van die Kolonie teen die oprukkende Britse besetters, sy rebellie teen die lamsakkige VOC-owerheid en sy strewe na ’n eie Kaapse Republiek. ’n Groot deel van die verhaal speel af in William se huis, Saasveld, wat destyds aan die voet van Tafelberg gestaan het. Saasveld is in die vyftigerjare steen vir steen na Franschhoek verskuif en herbou as die Hugenotemuseum. In 1795 beskryf dr. Dan William as die laaste goeie man. Ek dink William sou bly wees as hy kon weet dat sy Saasveld-huis eeue later ’n bymekaarkomplek was om aan nog ’n goeie man erkenning te gee vir sy liefde vir die Kaap en geskiedenis,” skryf Langner in ‘n verklaring op Facebook.

Sleigh wat in November 79 jaar oud word, het die toekenning met die volgende woorde in ontvangs geneem: “Hierdie toekenning span vir my die kroon op my skrywersloopbaan en dit is ’n groot eer om op dié manier deur die FAK vereer te word en met Van Wyk Louw geassosieer te word.” Hy het verder gespot dat hy die toekenning bo sy bed gaan ophang.

Sleigh het ook vir Helena Schaefer, kultuurhistoriese kenner wat hom reeds vir 20 jaar bystaan in sy navorsings- en skryfwerk, sy dogter Jean, asook die uitgewers by Tafelberg bedank vir hul ondersteuning deur die jare.