Home News Letterkundig!

Letterkundig!

388
Lede van die Franschhoek Klub en hul gesinne het op 11 Desember 2020 die letters afgewit wat die dorp se naam teen Middagkrans uitspel.

Lede van die Franschhoek Klub en hul gesinne het op Saterdag, 11 Desember 2020, weer die letters wat die naam Franschhoek uitspel op die hang van Middagkrans afgewit.

Die letters is omtrent 18m hoog en dit het 110 liter verf gekos om hulle almal weer af te wit. Die verf is deur die Franschhoek Klub aangekoop.

Dit was nie die eerste keer dat die Franschhoek Klub die letters afgewit het nie en van die verwers het dus reeds uit ervaring kundigheid opgedoen in wat die beste tegniek vir die taak voorhande is. Vir een lid, Lourens Hugo, is die afwittery egter elke keer ‘n besonder spesiale ervaring want sy familie is reeds vir meer as 80 jaar daarby betrokke.

In Augustus 1937 het die stadsraad ‘n versoek van die Direkteur van Lugvaart in SA ontvang met die versoek dat die dorp se naam op ‘n nabye heuwel of berghang uitgelê word. Die raad het geantwoord dat die naam reeds teen ‘n berghang uitgelê is. (Dit is in 1911 deur die Boeredebatsvereniging gedoen.) Daar is egter besluit om die bossies rondom die letters uit te kap en die letters af te wit. Weens ‘n gesloer om met die werk te begin het die broers L.H. en J.S. Hugo (onderskeidelik Lourens se oupa en grootoom) in November 1937 besluit om op eie koste die letters af te wit.

Die pas was op daardie stadium van besondere betekenis vir die broers want hulle het die handelsmerk ‘Franschhoekpas’ gebruik op die etikette wat op hulle kissies uitvoervrugte geplak is.

Nog ‘n rede hoekom die letters betekinsvol is vir die Hugo’s is dat nog ‘n J.S. Hugo (bogenoemde J.S. Hugo se oupa) en sy dogter, Magaretha, in 1892 in ‘n ongeluk op die pas oorlede is naastenby waar die letters is.

Nog ‘n Hugo voorsaat, Daniël Hugo, het in 1820 die tender bekom om die Engelse soldate wat die sg. Hollowaypas oor die berg gebou het met kos te voorsien. Die proviand is met ‘n bokwaentjie aangery.

So ‘n ryk verbintenis vind mens nie aldag nie. Hopenlik is die Hugo’s nog baie jare in die vallei om die verbintenis voort te sit.